Blog

SA mediahumoriste se ‘skokonthullings’ geboekstaaf

2 June 09 Categories: Laugh it Off

http://www.dieburger.com/Stories/Entertainment/Books/19.0.1584317012.aspx
RENÉ LÖTTER 31/05/2009 07:38:35 PM – (SA)

Daar is altyd geglo demokrasie is die gesonde spruitjie wat uit die gelukkige huwelik tussen ‘n vry media en kapitalisme gebore word. Maar wat nou, noudat die blinkoog bruid Media so lelik deur die bruidegom Kapitalisme toe-oog en tanduit geslaan word?

Indien Mammon veroorsaak dat die media haar so laat sensureer en vervlak, en indien ‘n oop vooruitstrewende gemeen­skap net kan bestaan vir so lank die media krities is, is daar mos geen hoop nie?

Enter hayibo.com. Dié webwerf, net oor ‘n jaar oud, kan beskryf word as Suid-Afrika se eie theonion.com

, net snaakser.

Soos ‘n tartende hofnar maak dit die geykte, vroom, naïewe of vervelige sensasionele styl van vandag se tipiese nuus­verslae na. Deur dié parodie kry die leser gilsnaakse en sommer veel akkurater kommentaar op die SA psige en nuus.

Die inhoud is geïnspireer deur die dorings in die vlees van die meeste Suid-Afrikaners.

Hier is byvoorbeeld ‘n uittreksel uit ‘n stuk oor regeringskorrupsie getitel “Last Honest Public ­Official to Auction Integrity to ­Highest Bidder”: “The last remain­ing hon­est public official in South Africa, Mr Godknows Mkhize of the Alice municipality says he has had enough of earning an honest living while all the country’s other pub­lic servants enrich themselves.”

Dit beskryf voorts hoe Godknows niks “hectic” wil hê nie: “just something where I get a brown envelope once a week and half a sheep now and then. He said that his long-term goal was to be caught with his hand in the till and suspended on full pay.”

Geen politieke party word ontsien nie en heilige koeie word geslag. Lees veral: “DA Election Observer Outraged by Shortage of Ton­ic Water in Zimbabwe” en: “Mandela Urges Obama to Go to Jail for 27 ­Years to Boost Image”.

In nog ‘n “berig” word die HNP beskryf as “the party that had once denounced P.W. Botha as a Communist fornicator hell-bent on forc­ing Satan’s teat – tele­vision - into the pink mouths of our white babies.”

Poskantoordiefstal word aan­gevat in ‘n stuk met die opskrif: “SA Post Office to Sell Stolen ­Amazon Products Direct to ­Public”. Oor die kragdebakel is daar “Eskom Asks Public to be Patient, Needs More Time to Construct New Lies”.

Artikels oor die beheptheid met selebriteit is legio. ‘n Gunsteling is “White South Africa Torn Apart by Hofmeyr-Huisgenoot Row”. En as daar één artikel is wat die boek verpligtend maak, is dit die een oor Liewe Heksie – nou bitter, 56, gatvol . . . en besig om te pak vir Perth.

Die artikels is nie net menings nie, maar mimiek. Tot ‘n mate reflekteer dit ook ons eie persepsies en (belaglike, mediagevormde) vre­se: “Zuma Camp Calls for Discipline until 2010, all Bets off after that”.

Die artikels is geskryf in die styl wat ons elke dag in “regte” media sien: oordrewe alliterasie, oorgebruikte byvoeglike naamwoorde, aanhalings van kwasirelevante bron­ne, in ‘n stemtoon van heilige ontsag . . . maar dan word dit deur meta-humor op sy kop gedraai:

“Acclaimed physicist Stephen Hawking stunned the scientific community last night when he publicly stated . . . the bleeding obvious. Hawking, who is in South Africa to adjudicate a ­beach volleyball tournament, told appalled media that Nelson Mandela’s role in ushering in democracy was ‘one of the great­est achievements of the twentieth century’.”

‘n Professor van die “Euro­pean Union’s Elite Committee for Astrophysics and Hard Sums” sê hy hoop Hawking se gebruik van “broadsheet sentiments and the most over-in­dulged platitudes ever dredged up by mediocre opinion hawkers was a once-off anomaly.”

Dít, dink ek, som ook die sentimente van die Hayibo-skrywers op. Asof hulle die media en lesers lag-lag weer op die regte pad wil bring.

Amper vergeet ek dis ‘n boekresensie. Hayibo se beste web­artikels is nou in boekvorm uitgegee deur Jacana Media.

Soos ‘n blogger op die boek-werf opmerk: “Oe, die omslag lyk soos ‘n reuse-Chappies-papier. Dit maak my bly want alles wat ek weet, het ek van Chappies geleer.”

Hayibo!

(Nota: Dis taamlik algemeen bekend wie die skrywers is, maar volgens Jacana wil dié drie amptelik as die Hayibo.com-span of die Hayibo-collective bekend staan.)

-René Lötter

jacana media, johannesburg. (SAGTEBAND, 96 bladsye, ISBN 9 781 77009 689 9.)

Humor

HAYIBO! BREAKING NEWS. INTO LOTS OF LITTLE PIECES

Hayibo-collective