Zuma, Malema en groot maatskappye ‘borg’ elkeen ‘n maand in 2010-almanak
Op die Maart-kalender van die media-maatskappy Laugh it Off (LIO) se satiriese “Corpowit 2010″-kalender sit ‘n kaalkop-man wat baie na die land se president, mnr. Jacob Zuma, lyk, agter ‘n lessenaar.
Bo sy kop is ‘n groot stortkop. Voor hom staan ‘n bottel J&Z- whisky en op twee rusbanke lê twee vroue met kort rokke. Die borg vir dié maand? “Zuma”.
LIO het die kalender, deurspek met satire oor groot name in die sakewêreld, Vrydag by hul “Skop skiet en donner”-partytjie in Kaapstad bekend gestel.
Die Mail & Guardian het toe reeds Vrydag die stortkopfoto op sy voorblad gepubliseer, maar nie voordat ‘n brief van die presidensie se prokureurs glo geëis het dat die foto nie gepubliseer moet word nie.
Volgens Nic Dawes van die Mail & Guardian het dit later geblyk dat nie die president of sy senior amptenare enige interdik teen die publikasie beoog nie.
Die komediepaar Corné en Twakkie het LIO se gaste in die Tafelberg Tavern uit hul mae laat lag.
Hulle wou onder meer van ‘n laggende Jonathan Shapiro, die bekende spotprenttekenaar, weet: “Was jy in die presidentswedloop of het jy weggehardloop van die president?”
Op die Julie-kalender is ‘n man wat baie na mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, lyk, besig om blatjang te maak. Agter hom knetter die vuur in ‘n kaggel.
Die borg? “Mr Ballache – original recipe chatterbox”.
Die spot word elke maand met bekende en groot maatskappye gedryf.
Daar is onder meer (of is dit?) die nasionale lugdiens (Substance Abuse Airways), bekende bierhandelsmerke (I’m still Lagered), ‘n telekommunikasiemaatskappy (Tellsome1), ‘n selfoonverskaffer (Aikona), ‘n gewilde studente-rooiwyn (Tossabergie), bekende skopdop (Captain Moron), ‘n brandstofverskaffer (Hell Ultra Shitty) en ‘n gewilde braaihoender (KFR).
Ironies genoeg het SA Brouerye volgens die gashere kiste Black Label-bier vir die aand geborg.
Mnr. Justin Nurse van LIO het vroeër ‘n konstitusionele hofbeslissing in sy guns verkry toe SA Brouerye hom voor die hof gedaag het omdat hy hul bierproduk “Black Labour” in plaas van Black Label genoem het. Die kalender noem dit nou “Black Neighbour”.
Volgens Nurse plaas humor die probleme waarmee Suid-Afrikaners worstel in konteks.

